top of page

Time to move

I feel sorry for my English readers this time around, because today I want to share a short story I wrote for the "Woordfees-kompetisie 2023". It has not been selected, however, I still believe it is very applicable for the time I find myself in.

In two weeks time my kids and I are starting a new chapter in our lives. Moving house and home, business and old memories. Time to move and start fresh. New memories.


Enjoy...


"Dis reeds laatmiddag toe Marinda uiteindelik besluit om haar laaste persoonlike goed te gaan pak. Die treklorrie het al ure gelede vertrek met haar meubels. Haar twee seuns (Steven en Eric) het net daarna gery met die bakkie wat hulle saam-saam geëerf het. Agterop was al die oortollige huisraad - goed genoeg vir hulle studentehuis. Vir ure het sy deur die leë huis gedwaal, vasgehak in elke vertrek, geluister na die leegheid en onthou. Twintig jaar se onthou kan nie in net ‘n paar minute afgerammel word nie.

Sy het eers werklik weer uit die verlede ontsnap toe die namiddagson Danie se kantoor, waar sy gekruisde bene op die grond gesit het, in skemerskadus begin hul het. Sy kon hom nog ruik in die donker houtpanele teen die muur. Sy stem hoor waar hy praat oor die foon of met een van sy kliënte redeneer. Die stem wat altyd harder en vinniger begin praat het hoe meer opgewonde hy geraak het. Die stem wat ook stelselmatig sagter geraak het voordat dit finaal, amper ‘n jaar gelede, doodstil geword het. Sy kyk nog eenmaal na waar sy lessenaar gestaan het, draai om en trek die deur op knip.

Sy hoor die bure se kinders lag en speel met ‘n bal en dink instinktief aan die dae toe haar twee seuns, hordes maats oorgenooi het op ‘n Vrydagmiddag en hoe sy moes rondstaan om seker te maak almal kry kos en het ‘n handdoek as hy uit die swembad klim. Teen die einde van so ‘n dag, was sy gewoonlik stokflou omdat sy eers die hele huis van voor tot agter moes mop en al die skottelgoed skoonmaak. Moes is dalk nie die regte woord nie, want niemand het dit ooit van haar verwag nie, behalwe syself. Sy snuif ‘n verdwaalde traan weg en gee ‘n vinnige snorkgeluid, net om te besef sy is alleen en het nie nodig om vir iemand enige iets te verduidelik nie.

Met ‘n koppie lou koffie in haar hand, gemaak met die laaste bietjie kookwater in die warmvles, stap sy in die gang af na die agterste kamer. Hulle hoofslaapkamer met die hoë plafon. Later net haar kamer met die groot sonvensters, waar sy die afgelope maande agter toegetrekte gordyne weggekruip het. Nugter alleen weet vir wie, want eintlik was sy nog al die jare haar eie grootste vyand. Dis ook in hierdie kamer waar sy weer tot insigte gekom het en haar kop kon oplig en besluite neem wat tot haar eie voordeel sou strek. Selfsugtige besluite wat vir die eerste keer ooit nie ander se gevoelens in ag geneem het nie. Bevrydende besluite wat op die ou einde nie eers regtig vreeslike negatiewe gevolge gehad het soos wat sy aanvanklik gedink het dit sou nie.

Vanmiddag beur die laaste bietjie son deur daardie groot sonvensters. Die gordyne is reeds afgehaal en gepak in bokse vir haar nuwe woonplek. Of hulle gaan pas vir die veel kleiner vensters van haar nuwe plekkie, is ‘n vraag vir ‘n ander dag. Dalk moet sy dit ook maar vir die seuns gee, oorweeg sy. Dis donkergrys en sal eintlik baie beter pas in hulle half-gemeubuleerde sitkamer. Dalk sal dit selfs die illusie van warmte skep. Bloemfontein kan juis so ysig koud raak in die winter.

Sy sluk die koffie sommer met een teug af en sit die leë papierkoppie op die vensterbank. Sy sug toe sy om haar kyk en die klank van haar stem eggo teen die kaalmure. Iewers hoor sy musiek speel. Dit klink soos ‘n verwerking van Annelie van Rooyen se “Ek Lewe”, maar dan hou dit op en wonder sy of sy haar dalk net verbeel het. Sy neurie die wysie tog saggies asof dit steeds iewers in die agtergrond speel. Die moerbeiboom se takke verf lang skaduwees oor die kaal muur. Sy wou nog die ou boom laat uitkap het want in al die jare het hy nog nie een ordentlike moerbei gedra nie. Inteendeel, net die voëls het daarvan geëet en dan haar buitestoep en trappe elke jaar bemors dat gewone seep en water alleen dit nie kon afwas nie. Ag wat, die volgende eienaars moet maar besluit wat hulle met die boom gaan maak. Ook met die plafon in die gastebadkamer wat nou vir die hoeveelste keer besig is om af te skilfer. En die afdak by die braai wat vervang moet word ná die laaste reënskade, en die waterpype wat al stokoud is en na elke winter op ‘n ander plek bars, en… Sy sug weer. Hierdie keer meer van verligting omdat dit nie meer haar probleem is nie. Die huis is voetstoots verkoop en al het sy miskien nie die aanvanklike verkoopsprys gekry wat haar seuns voorgestel het nie, het sy steeds ‘n klein wins gemaak. Genoeg om vir hulle elkeen ‘n bedrag te kon oorbetaal om te help met hulle onderskeie studies en vir haar ‘n plekkie op Paternoster te kon koop.

Al wat nog oorbly is haar laaste tas wat gepak moet word, dan kan sy ook in die pad val. Sy slaap nou wel vanaand net op die volgende dorp, maar more oggend vroeg durf sy die langpad aan Weskus toe. Haar oog vang die spieëlbeeld van die middeljarige vrou met die kortgeknipte blonde hare in die toe ruit. Sy skrik instinktief, want sy herken nie die nuwe gedaante nie. Gister nog sou dié vrou lang slordige uitgegroeide vaalbruin hare gehad het met stroke grys langs haar slape. Na die seuns se maandelange gekerm, het sy toe tog wel voor die groot trek vanoggend begin het, gou eers by die haarsalon ‘n draai gaan maak. Soos gewoonlik moes sy koes vir al die persoonlike vrae en belangstelling in haar nuwe lewe en toekomsplanne. Wie kan dan nou nee sê vir ‘n sappige skinderstorie wat saam met die reuk van haarkleursel en die geraas van haardroeërs aangebied word.

Haar nuwe haarsnit het definitief bygedra tot haar ligter luim vandag. Asof sy skielik kans gesien het vir al die veranderinge. Ook vir al die vreemdes wat kom help het om haar meubels en bokse boeke en kombuisware uit te dra en haar stelselmatig alleen gelos het in die kolosale huis met sy leë vertrekke. Dié huis wat eens haar veilige hawe was. Waar elkeen sy nessie gehad het, maar waar hulle ook as gesin saam kon kuier om die kaggel of buite-braai. Waar sywurms oor vele winters, in skoenbokse tussen die seuns se klere uitgebroei het, en waar die geur van baksels beskuit en gekookte disse deur die voorhuis getrek het.

Sy draai om en maak die ingeboude kasdeur oop. Die gekraakte spieël aan die binnedeur gee ‘n veel duideliker beeld. Sy glimlag vir die vrou. Sy ken dié oë, al lyk hulle hier in die skemerte helderder en gelukkiger as ‘n week of twee gelede. Die plooitjies om haar oë en mondhoeke glimlag saam. Hierdie vensters vertel van ‘n siel wat deur baie seer is die laaste jaar en tog steeds hier is na alles. Sy knipoog vinnig vir haarself en uiter ‘n lawwe laggie.

Sy kyk op haar horlosie: dis al half vyf. Sy sal nou moet wikkel want sy het reeds gister met die Munisipaliteit gaan reël dat hulle teen vanaand die elektrisiteit sou afskakel. Met die winter wat die laaste week vinnig nader gekruip het sal sy nie meer vir lank in die skemer kan sien wat sy doen nie. Gelukkig is die paar goed wat agtergebly het in haar kas nie te veel vir die groot reistas wat sedert vroegoggend al oop op die kaal vloer lê nie. Sy kon haarself nog net nie sover kry om hierdie laaste goedjies te kom pak nie… dit voel so finaal.

Sy dink ook noodgedwonge terug aan laas winter se oppakkery. Die leë dubbeldeurkas in die hoek van die vertrek is bewys daarvan. Maar in plaas van tasse, was Danie se klere en skoene in bokse gepak; gemerk ‘KERK’ en ‘KINDERS’. Meeste van sy boeke het sy verkoop, want wat sal sy of die seuns tog daarmee kon maak. Nie een van hulle het ooit enige van sy stokperdjies of belangstellings gedeel nie. Voëlkyk, tuinbou, golf. Hy het baie keer haar probeer leer, maar die gogga het net nooit gebyt nie. Selfs nie eers vir een van die seuns nie. Snaaks hoe mense met sullke uiteenlopende persoonlikhede na jare steeds ‘n huwelik kon laat werk. Dalk het dit juis gewerk omdat hulle so verskillend was. Of dalk omdat sy vroeg reeds in hulle verhouding geleer het dat haar ma se raad; “ stil bek is ‘n heel bek” haar behoud was.

Sonder om nog mooi op te vou, skep sy bondels klere uit die rakke in haar arms, en gooi dit half vermakerig in die tas. Sy kyk om haar rond en gee weer ‘n lawwe laggie. So asof sy iemand wil uittart. Haar ma of oorlede man dalk. Iemand wat ‘n stokkie voor hierdie rebelse tienergeite sou steek. Asof iets haar jaag gryp sy weer na die klere in die kas en hierdie keer gooi sy dit met mening in die tas. Toe al die rakke leeg is en die laaste hangers ook ingegooi is, gaan sit sy wydsbeen oor die tas om die knip toe te forseer. Sy kyk weer terug na die kas met sy leë rakke, sug weer, maak haar oë toe en gooi haar kop agteroor asof om te bid. “Dankie Here!” is al wat sy sê. Hy weet mos.

In die badkamer maak sy ook ‘n finale draai en kyk dat alles wat sy nog vanoggend vir oulaas mee gewas het, ingepak is in haar pienk toiletsak. Grimering in die grimeersakkie. Sonder dat sy dit beplan het val haar oë weer op haar beeld in die spieël teen die muur. Hierdie keer skrik sy nie, maar salueer vriendelik met haar hand. Met sakke oor haar skouer en die tas se wieletjies wat klikketie-klak agter haar aanry oor die koue teëlvloere, groet sy vir die soveelste keer die huis. Dit neem ‘n tydjie om deur die lang gang, verby die kamers, leefarea en deur die kombuis te loop tot by die agterdeur. Sy pak eers die tas en sakke in haar kar se kattebak, voor sy teruggaan om die deur te sluit. Die sleutel los sy sommer in die posbus, maar nie voordat sy eers die sleutelhouer met ‘n foto van haar kinders toe hulle nog klein was, afgehaal het nie.

Buite die hek hou sy stil en kyk vir oulaas terug na die huis met sy leë vensters. Vir die eerste keer is dit nie meer haar huis nie, want dit wat dit hare gemaak het, is verby. Die kerkklok lui in die volgende straat, en kondig sesuur aan. Vrydagaand sesuur aan die einde van ‘n Meimaand. Marinda ry stadig verby die huise in die bekende woonbuurt soos iemand in ‘n begrafnisstoet - oppad om iets te gaan begrawe. Meeste van die bome langs die pad is reeds kaal na die herfs. Ligte brand in voorhuise waar gesinne saam televisie kyk of aandete geniet. Sy trek haar serp stywer om haar nek. Haar motor is reeds gevul met petrol en toe sy uiteindelik die laaste liggies agterlaat, skakel sy die motorradio aan. Sy trap dieper op die versneller en terwyl Annelie van Rooyen sing: “Ek lewe”, besef sy MENS IS NOOIT TE OUD OM OOR TE BEGIN NIE."



27 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page